C.A. van Aswegen
Redigeerder
Redigeerder
C.A. van Aswegen

C.A. van Aswegen, met meer as 37 plaaslike en internasionale rolprente onder sy belt, het met cum laude in sy honneursjaar in Motion Picture Medium by AFDA in Johannesburg gegradueer.
Na universiteit het C.A. sy loopbaan as redigeerder begin op kortformaat-produksies en na meer as 150 advertensies en vele bekroonde musiekvideo’s het sy fokus verskuif na die wêreld van langformaat-narratief.
Met verskeie TV-reekse, wat toekennings in die industrie losgeslaan het, asook verskillende hoogs aangeskrewe en bekroonde dokumentêre speelprente, onder meer ’n gedenksreeks oor die lewe van Nelson Mandela, bou C.A. sy reputasie in die Suid Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
In 2016 wen hy die internasionale AMAA toekenning vir sy redigeringswerk op die rolprent, “Hear Me Move”. Hy ontvang ook ses SAFTA-nominasies as redigeerder, onder andere vir films soos “Roepman”, “Fatherland” en “Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom”.
’n Paar van sy meer bekende projekte sluit die volgende rolprente in: “Ellen: Die Ellen Pakkies Storie”, “Vir Altyd”, “Vaselinetjie”, “Susters”, “Stroomop”, “Vir die Voëls”, “Ballade vir ’n Enkeling”, “Klein Karoo”, “The Owner”, “Night Drive”, “Bakgat!”, “Ouma se Slim Kind” en “Noem My Skollie”.
C.A. is ’n ten volle geakkrediteerde lid van die South African Guild of Editors.
