Zenobia Kloppers

Fiela Komoetie

Zenobia Kloppers

Zenobia Kloppers is ’n Namibies-gebore aktrise, sangeres, skrywer en besigheidseienaar. Sy het toneelspel aan die Universiteit van Kaapstad studeer en klassieke sang aan die Universiteit van Stellenbosch. Zenobia het in verskeie rolle in teater, radio, televisie en film deur die jare verskyn onder die ervare regie van onder meer Sandra Prinsloo, Janice Honeyman, Juanita Swanepoel, Brett Michael Innes en Maynard Kraak. Sy is benoem vir Naledi- en Fiësta-toekennings en het deel gevorm van die rolverdeling in die bekroonde produksies “Ko lat ons sing”, die “Riel van Hip Hop” en Kramer en Peterson se “Ghoema” (“Spice Drum Beat”). Sy het kritieke lof ontvang vir haar interpretasie van die titelrolle in die toneelproduksies van “Klarabelle gaan Kaaptoe”, “Fiela se Kind”, “Sarah” (die verhaal van Saartjie Baartman), asook in radio-dramas soos “Die Swerfjare van Poppie Nongena”.

Die karakter van Fiela Komoetie word al vir tien jaar beplan. In 2008 het Zenobia die rol van Fiela vertolk onder regie van Sandra Prinsloo. Tien jaar later, in Februarie 2018, is sy gevra om in te staan vir Shaleen Surtie-Richards vir ’n twee-weeklange opvoering van “Fiela se Kind” by Carnival City. Min het sy geweet dat hierdie die repetisie sou wees vir die rol van ’n leeftyd in die nuwe filmaanpassing van “Fiela se Kind”. Die rol van Fiela is haar eerste hoofrol in ’n speelfilm.

Fiela Komoetie

Fiela ’n sterk vrou met hoë standaarde. Sy maak seker dat haar huis en familie skoon en goed versorg is. Sy het ’n sterk morele kompas, en al is sy nie die tipe ma wat drukkies uitdeel en sê “Ek is lief vir jou” nie, sal sy berge vir hulle oorsteek.