fsk-boek

Kort Sinopsis

Suidelike Afrika, 1865. Wanneer Fiela, ’n hardwerkende bruin vrou ’n driejarige wit seuntjie op haar voorstoep ontdek, het haar besluit om hom in te neem langdurige gevolge vir haar en die kind. Na ’n dekade in Fiela se sorg, word Benjamin raakgesien deur regeringsowerhede en word hy weggeneem van haar, en terugbesorg aan die wit familie van houtkappers waarvandaan hulle glo hy kom.

Verwyder deur die gereg en afstand, spandeer Fiela en Benjamin die volgende dekade om mekaar op te spoor terwyl hulle terselfdertyd vrede maak met hulle individuele identiteite. Fiela het ’n seun verloor en verval geleidelik in depressie, ’n gemoedstoestand wat verder vererger word deur die mishandeling wat sy ondervind aan die hand van die gereg, en Benjamin se nuwe pa terwyl sy haar seun probeer opspoor. Benjamin, aan die ander kant, word gewerp in ’n verarmde omgewing waarin hy mishandel word, een waarin hy geforseer word om ’n nuwe identiteit aan te neem terwyl hy sy eie onderdruk.

Storie Agter die Storie

Deur Brett Michael Innes

“Fiela se Kind” is deel van die Suid-Afrikaanse skatkis, ’n Afrikaanse roman wat al vir drie dekades in skole regdeur die land studeer word. Dit is aangepas vir film in 1988 deur Katinka Heyns met Shaleen Surtie-Richards in die titelrol in ’n vertolking wat so ikonies was as die karakter deur wie dit geïnspireer is.

’n Verhaal oor die mure wat ons van mekaar skei en die liefde wat ons verenig, vertel ‘Fiela se Kind’ ’n storie van ’n bruin vrou in die 1890’s in Suidelike Afrika wat ’n wit kleuter op haar Karoo-voorstoep kry en hom as haar eie grootmaak. Nege jaar later word hy ontdek en gestuur na wat geglo word sy ‘oorspronklike’ familie is. Die roman, wat oor 20 jaar afspeel, volg die reis van Benjamin, ’n seun met twee name, en ook die lewensreise van Fiela en Barta, die twee vrouens wie hy ‘ma’ noem.

Soos die geval met my eerste film was, wil ek werk met die benadering van ’n ‘voorgrond’ en ’n ‘agtergrond’, ’n ‘middelraam’ en ’n ‘buiteraam’. Om hierdie idee beter te verduidelik, het die kultuurkritikus Slavoj Zizek die volgende gesê oor dieselfde benadering wat deur Alfonso Cuarón gebruik is:

Wat my verskriklik aangetrek het tot ‘Y tu Mama Tambien’ was hierdie wonderlike spanning tussen voorgrond en agtergrond. As jy oppervlakkig na die film kyk, is dit slegs ’n seksuele avontuur met ’n desperate einde, maar nadat jy daarna gekyk het, kan jy nie sê dit is alleenlik ’n film oor twee jong seuns wie hulle seksualiteit ontdek nie. Dit is andersom. Jy sien die absurditeit van hulle lewe teen die agtergrond van sosiale onderdrukking.

“Die lot en reis van die individuele held word ’n soort prisma waardeur jy die agtergrond nog skerper kan waarneem. Hierdie prisma is ’n kragtige uitbeelding van die ideologiese wanhoop van die tyd wat nooit kon ontstaan het deur direk na hierdie temas te kyk nie. Jy kan dit op ’n soort ‘skuins’ manier sien net as dit in die agtergrond is.”

Hierdie is ’n benadering wat ek wil uitvoer in ‘Fiela se Kind’, nie slegs op ’n narratiewe vlak nie, maar ook op visuele- en audiovlakke, deur dit wat belangrik is weg van die fokuspunt te probeer plaas en aan die rand van raam. In die ‘voorgrond’ of ‘middel van die raam’ het ons ’n ma en seun wat probeer om met mekaar te herenig, ’n eenvoudige tog universeel toeganklike storie oor die liefde tussen twee mense, moederskap, verlies en die belangrikste van alles, identiteit. Dit is ’n verhaal wat kon afgespeel het in die Amerikaanse Suide of die Australiese ‘Outback’ en as gevolg hiervan sal die film aanklank vind by ’n globale gehoor asook die Suid-Afrikaanse een.

In die ‘agtergrond’ of die ‘rand van die raam’ van hierdie verhaal het ons sosiale kommentaar oor rasseverhoudings in pre-Apartheid Suidelike Afrika, asook die formasie van die ‘bruin identiteit’ deur Hollandse en Britse koloniale owerhede. Hierdie is ’n baie spesifieke ondervinding wat slegs in Suid-Afrika kon plaasgevind het tydens hierdie tyd en die kamera sal flankeer met hierdie temas terwyl dit nie die aandag aflei van die primêre temas nie.

Ek wil ook Fiela se donkerheid verken in hierdie narratief, iets wat nog nooit aangepak is in die roman, film- of verhoogaanpassings nie. Blanke skuldgevoelens het daartoe gelei dat baie van die blanke storievertellers vir Fiela as heldin uitgebeeld het, en haar uitbeeld asof ’n heilige of ’n slagoffer wat nie verkeerd kan doen nie en slegs die slagoffer is van blanke wreedheid. Ek vind dit problematies, omdat dit in haar grys areas is dat ons haar menslikheid ontdek, en dit wat sy verkeerd gedoen het, en gevolglik word sy meer interessant.

Die internasionale mark sukkel om blanke Afrikaanse narratiewe as vanuit Afrika te verwerk en hierdie los die probleem op terwyl dit ook aan sommige van die ongelooflike bruin akteurs in ons industrie die geleenthied bied om uiteenlopende rolle te vertolk. Hierdie is een van die min verhale wat aanklank sal vind by wit en bruin Afrikaanse gehore op ’n manier waar ander films met bruin akteurs in hoofrolle nie daarin slaag nie.

In al my projekte probeer ek om ’n element in die natuur te vind wat ’n leidende ster vir die projek is, ’n tasbare voorwerp waarna die kunstenaars met wie ek saamwerk altyd na toe kan terugkeer as ’n verwysing en ’n inspirasie.

Vir ‘Fiela se Kind’ is dit hout. In die Chinese Taoist-denkwyse, word die element van hout grootliks geassosieer met krag en aanpaasbaarheid. Die hout-element is een wat maniere soek om te groei en uit te brei, terwyl dit simbolies is van die begin van lewe, sensualiteit en vrugbaarheid. In Chinese medisyne, word hout geassosieer met negatiewe gevoelens van woede.

Hierdie werk goed op ’n narratiewe vlak omdat hout so ’n groot deel van die storie is, met die Van Rooyens wat hulle lewensbestaan maak deur bome af te kap en Fiela wie dieselfde doen deur aalwyne te tap. Die woude van Knysna is hul eie karakters, en word soomloos omring deur die elemente wat hierdie film sal lei.

Hout, in al sy vorms, sal teenwoordig wees in elke raam van die film, vanaf die kleurkeuses tot die props, die poëtiese simboliek tot die beligtingsontwerp.